Sunday, February 22, 2009

Sterre van 2009 - Bok van Blerk


Dit gaan moeilik wees om die sukses van sy De la Rey-album te klop, maar hy gaan nietemin probeer. Bok van Blerk doen nou opnames vir sy volgende CD, wat teen Maart beskikbaar sal wees. ''Dit is lekker nuwe, oorspronklike liedjies,'' vertel hy. ''Ek dink die lirieke en die wysies is beter as op die vorige album.''

Hy is veral opgewonde oor die duet Pa en Seun wat hy saam met Steve Hofmeyr sing. Die liedjie kom uit die musiekspel Ons vir Jou, en Bok en Steve het reeds 'n musiekvideo daarvan gemaak. ''Ek wil baie toer met die album en dit 'n sukses maak. Ek hoop en droom dit sal De la Rey se skoene vol staan. Daar is 'n paar lekker liedjies op, soos Seilvis Skoffel wat gaan oor 'n visvang-liegstorie en Brandewyn Sonder Brieke wat net 'n lekker kuierliedjie is,'' verklap hy.

Dat sy aanhangers steeds meer van Bok wil hê en in afwagting uitsien na sy nuwe CD, is 'n uitgemaakte saak, sê Maurice Carpede, aanbieder van die musiekprogram Sweepslag op SABC2 en Jacaranda 94.2.

"Dit gaan 'n toetsjaar vir Bok wees. Hy sal nooit met 'n liedjie vorendag kan kom wat groter as De la Rey kan wees nie. So iets is 'n eenmalige fenomeen."

Maar wie weet, dalk verras hy ons? Sy aanhangers verwag in elk geval weer 'n treffer waarmee hy sterk standpunt gaan inneem soos met De la Rey, maar Bok is net so bekend vir sy lekker kuiermusiek soos 1968 Chevy, sê Maurice.

No comments:

Post a Comment