Sunday, February 22, 2009

De la Rey, O red ons trots!


Die man agter die mikrofoon pluk die kitaar oor sy skouer reg. Hy steek sy gebalde vuis in die lug. ''Hierdie een is vir julle!'' skree hy.

Dis asof Bok van Blerk se woorde 'n elektriese stroom deur die jong mense stuur wat bankvas voor hom staan. Nou, eindelik, gaan hulle die liedjie hoor waarvoor hulle al die hele aand wag. Vroeër vanaand toe Bok en sy orkes op die verhoog klim, het hulle al daarvoor begin skree. Nou weerklink dit weer deur die kroeg: ''De la Rey! De la Rey!'' Bok wys na 'n jong man in 'n swart T-hemp, bier in die hand: ''Dis vir jou'', toe na 'n meisie met lang blonde hare en 'n stywe toppie: ''En vir jou!''

Nou praat hy met almal hier in die rokerige kroeg in Hatfield, Pretoria. ''Hierdie een speel ek vir julle omdat julle is wie julle is. Julle is Afrikaners!''

Die jonges swaai hul glase hoog in 'n raserige saluut. Bokant die rumoer klink Bok se stem op: ''Ek speel dit sodat julle moet onthou waar julle vandaan kom. Onthou jul geskiedenis, jul kultuur. Wees trots daarop. Onthou wie julle is. Julle is Afrikaners. Julle moet dit in jul hart weet.'' Die skare antwoord weer en weer: ''De la Reeey . . .''

Netnou het 'n musiekvideo van die lied oor die Boeregeneraal Koos de la Rey op die TV's teen die mure gewys: beelde uit die Anglo-Boereoorlog, soldate teen sandsakke, vroue en kinders in konsentrasiekampe. Die video is nou al weke lank nommer een op kykNET se MK89.

Toe Bok en sy orkes die eerste note speel, bedaar die lawaai. ''Op 'n berg in die nag lê ons in donker en wag,'' begin Bok sing. ''In die modder en bloed lê ek koud.'' Twee mans voor my slaan hul arms om mekaar se skouers en wieg op maat van die meesleurende musiek. Die meeste mense hou hul drankies omhoog. Ander staan kiertsregop, vuiste in die lug, of op die hart. Dis amper asof ons na 'n nuwe volkslied luister. Almal sing die refrein saam: ''De la Rey, De la Rey, sal jy die Boere kom lei . . . Generaal, generaal, soos een man sal ons om jou val, generaal De la Rey.''

Die CD met die lied De la Rey as titelsnit verkoop soos soetkoek - 10 000 is net in September, sy eerste maand op die winkelrakke, verkoop. Dis besig om kultusstatus te bereik, sê die mense.

En vanaand hier tussen 'n paar honderd jong Pretorianers swig ek ook voor die eienaardige, magtige betowering daarvan. Hoendervel slaan op my arms uit. Ek weet nog nie die melodie en woorde sal dae lank in my kop draai nie . . .

Hy kry ook soms hoendervel wanneer hy De la Rey sing, erken Bok by sy huis in Pretoria. ''Ek is altyd trots wanneer ek dit sing.'' Sy donker kuif is teruggekam, hy't 'n flentertjiebaard onder sy lip en die glimlag van 'n platjie. Hy's 'n 28-jarige konstruksiebestuurder en lyk soos die soort outjie wat jy wil huis toe neem om jou dogter te ontmoet.

''Die verhaal van De la Rey gryp my aan,'' vertel hy. ''Hy was eers teen die oorlog gekant, maar het tot die einde geveg. Sy mense kon op hom reken. Toe hulle vol bloed en modder was, het hy hulle gehelp.''

Baie mense dink die lied is polities. ''Maar ek is nie regs nie. Ons vra ook nie vir 'n nuwe leier nie. Ons wil net hê ons Afrikaners moet trots wees op ons taal en kultuur.''

Bok se regte naam is Louis Pepler. Hy is genoem na sy oupa wat minister van Bantoesake in die ou regering was. Op die verhoog het Louis genoeg charisma om self 'n politikus te wees. Dis seker dié dat sommige wil hê hy moet by hul regse bewegings aansluit . . .

Bok is self verras deur De la Rey se gewildheid. ''Die mense soek seker na 'n held of 'n leier. Vir my is elkeen in sy eie hart 'n leier vir sy taal en kultuur.''

Die idee vir De la Rey het om 'n kampvuur ontstaan. ''Ons het gebraai, 'n bier gedrink, liedjies gesing en gedink aan alles wat in Afrikaans gebeur - dat dit eers blom noudat dit onderdruk word. Op Afrikaanse feeste is daar 'n positiewe energie en lekker gees. Ons moes net 'n liedjie oor 'n Boereheld skryf.'' Louis se vriende Johan Vorster (26) en Sean Else (32) het dit toe geskryf. Die twee is ook die stigters van Mozi Records wat die CD vervaardig het. Johan is die liedjieskrywer en sanger van die groep Eden. Sean skryf liedjies en toneelstukke, is 'n akteur, het al toneelstukke opgevoer en was ook die aanbieder van die Afrikaanse Idols op kykNET.

Die lied is gebore terwyl hy en Sean op pad was na 'n wildplaas naby Nelspruit, vertel Johan. ''Sean het al tevore gesê ons moet 'n lied oor 'n Boeregeneraal skryf. Toe die koppies anderkant Nelspruit om ons begin skaduwees gooi, het ek geïnspireerd gevoel. Ek sê toe: 'Wat van De la Rey?' ''Sean het stories oor die Boereoorlog begin vertel en die melodie het binne sekondes by my opgekom. Toe het die woorde De la Rey gevolg, en die lied het homself in my kop klaar geskryf. ''Die Boeresoldate sou die melodie kon saamsing. Dit vertel van pyn en seer, maar ook van hoop en vertroue in 'n held. ''Op die plaas het ons met 'n kitaar om 'n vuur gaan sit en Sean het binne minute die lirieke voltooi. Toe ons dit vir die plaaseienaar sing en hy met trane in sy oë begin saamsing, het ons geweet ons het iets beet.

''Bok het later 'n paar veranderings aangebring en met sy stem en sterk persoonlikheid lewe in die lied geblaas.''

Die video van die liedjie is binne twee dae op Sean se plaas in die Oos-Vrystaat gemaak. Die akteurs was 'n handjievol mense uit die kontrei wat in ysige weer kampeer het.

Die liedjie is so gewild omdat Afrikaners nou daarvoor reg is, reken Sean. ''Die Boereoorlog en apartheid het ons verdeel en van ons trots gestroop.

''Hoe meer hul kultuur onderdruk word, hoe meer raak Afrikaners 'n hegte eenheid. Ons krag lê nou in ons kultuur, nie in politiek nie. Dit het my laat dink die tyd is reg om vir die Afrikaner 'n ongelooflike deel van sy geskiedenis te wys, 'n tyd toe legendes op die slagveld gebore is.''

Genl. Koos de la Rey (22 Oktober 1847 - 15 September 1914) is in Winburg in die Vrystaat gebore en het later in die Lichtenburgdistrik gewoon.

In 1883 het hy lid van die volksraad van die Zuid-Afrikaanse Republiek geword.

Hy was 'n Boeregeneraal en een van die grootste militêre leiers in die Anglo-Boereoorlog. Hy was die eerste persoon ooit wat loopgrawe in 'n oorlog gebruik het. Sy bynaam was Die Leeu van die Wes-Transvaal. Siener van Rensburg het saam met sy troepe rondgetrek en daarom kon De la Rey glo so dikwels hinderlae vermy.

Ná die oorlog het hy en ander leiers in Europa gaan geld insamel vir boere wat hul plase in die oorlog verloor het. In 1907 is hy tot die nuwe Transvaalse parlement verkies en hy het later 'n senator geword. Hy het die eerste minister Louis Botha gesteun in sy poging om Boere en Britte te verenig.

Op 2 Augustus 1914 het Siener 'n visioen gehad: Bloed giet uit 'n swart wolk met die nommer vyftien daarop, die generaal is sonder sy hoed, die regering stuur 'n geel kis na Lichtenburg, 'n donker wolk hang oor die dorp en daar is 'n wa met baie mooi blomme. Op 15 September is De la Rey per ongeluk doodgeskiet in 'n padblokkade wat die polisie vir 'n bende opgestel het. Sy lyk is in 'n geel kis huis toe geneem, in 'n wa vol blomme. Net voor sy dood het die wind sy hoed weggewaai.


Bronne: HTTP://RAPIDTTP.COM/MILHIST/VOL022JO.HTML

HTTP://EN.WIKIPEDIA.ORG/WIKI/FIRST_BOER_WAR
deur Marie Opperman

No comments:

Post a Comment