Sunday, February 22, 2009

Kollig: Bok van Blerk (19 Oktober 2006)


By Aardklop het 'n nuweling op die Afrikaanse musiektoneel die mense gaande gehad met sy liedjie De la Rey. Maar wie is Bok van Blerk? Ons het nader gaan kennismaak.

Vertel ons 'n bietjie meer van jouself. Waar kom jy vandaan, hoe oud is jy en wat het jy ná skool gedoen?

Ek is 'n 28-jarige boerseun van Pretoria en het op 'n plasie net oos van Pretoria grootgeword. Ná skool was ek oorsee: Londen, België, Holland en so aan. Ek het toe konstruksiebestuur studeer en later by Group Five begin werk. Ek het onlangs ná sewe jaar bedank en 'n projekbestuurmaatskappy, Van der Linde en Venter, begin. Ek het ook 'n drukkery wat T-hemde, plakkate en baniere druk. Een van die redes waarom ek bedank het, is om my op my sangloopbaan toe te spits.

Is Bok van Blerk jou regte naam?

My regte naam is Louis Pepler, maar my bynaam is van jongs af Bok. Die Van Blerk het maar as 'n verhoognaam bygekom.

Wat sou jy gedoen het as jy nie gesing het nie?


Konstruksieprojekbestuur, beroepsjagter of renjaer.

Die volk is baie opgepluk met die liedjie De la Rey. Hoekom dink jy is dit so gewild?

Dis 'n goeie liedjie wat 'n mens se aandag trek, iets wat in jou kop vashaak. Daar is ook iets in die lirieke waarmee die volk kan identifi seer en wat nostalgie skep. Ek dink die volk voel weer trots om Afrikaans te wees as hulle na De la Rey luister.

Wie is die Minki wat in die liedjie 68 Chevy genoem word?

Ons almal wonder maar.

Wat is jou ander belangstellings?

Ek is mal oor die bosveld, watersport, diepseehengel en spieshengel.

Wat is jou planne vir die res van die jaar?


Ek is besig met optredes oral in die land, maar wil ook graagmy nuwe ondernemings op die been kry. Ons beplan ook 'n kustoer aan die einde van die jaar.

Wat doen jy eerste as jy soggens wakker word?

"Snooze" my wekker so veertien keer.

En wat doen jy laaste voor jy gaan slaap?

Loop rond en soek my bed.

Met wie wil jy graag 'n verhoog deel?

Valiant Swart.

Onderhoud deur lza Roggeband

No comments:

Post a Comment