Sunday, February 22, 2009

Geen Bok vir roem


Hy het nagte lank nie 'n oog toegemaak nie. Snags ná optredes het Bok van Blerk slapeloos op die rand van sy bed gesit met sy kop tussen sy hande en gewonder: Waarheen nou? Is dit alles die moeite werd? ''Ek het soms in die middel van die nag na my tasse sit en kyk en gedink: Ek gaan nou my goed pak, lughawe toe ry en na die eerste die beste plek vlieg om weg te kom van alles en almal.'' Sukses en roem het soos 'n tsoenami oor hom gerol, maar die prys was hoog.

Agttien maande gelede het Suid-Afrika skaars geweet van Bok van Blerk. Toe kom De la Rey, weghol-sukses, politieke twiste oor die soms omstrede liedjie, 'n wavrag vol pryse en oornag-roem. ''Die druk was net te erg. Ek het omtrent 10 kg verloor en sakke onder my oë gehad,'' vertel Bok.

Sy liedjie het naas Hier Kom die Bokke die mees verkoopte Afrikaanse liedjie van alle tye geword, en almal wou 'n stukkie van die nuwe sangsensasie hê. ''Ek het net-net kop bo water gehou,'' vertel Bok nou openhartig oor 'n klipharde tyd, soms met swaarkry waarvan min mense weet. ''2007 was 'n lang jaar en dit het soms baie dol gegaan. Dit is nie 'n jaar wat ek wil oorhê nie.''

Die laaste paar maande van verlede jaar was volbespreek met optredes. Hy het die land vol gesing en oral rekord-skares getrek. ''Ons het tot twee keer in Namibië opgetree - die een keer voor 13 000 mense. By die KKNK voor 12 000.''

En as dit nie De la Rey was nie, was dit Bok wat nuusopskrifte en koerantvoorblaaie gehaal het. CD-verkope vir De la Rey het die hoogte ingeskiet en die een ná die ander musiekprys het ingerol.

Drie Huisgenoot-Tempobeeldjies staan op 'n streep in sy sitkamer. By die Vonk Oskarmusiekaand het die 29-jarige sanger vyf pryse verower, onder meer vir beste verkoper en beste liedjie van die jaar.

Ná twee jaar kon hy uiteindelik sy huis opknap wat hy deel met sy musiekvriende Sean Else en Henning Joubert, orkeslid. En hy het homself met 'n motorfiets bederf. Maar Bok was nie 'n gelukkige klong nie. ''In 'n stadium het die media my 'n bietjie ondergekry. Allerhande bogstories het uitgekom en mense het nonsens agter my rug gepraat.''

Koerantopskrifte dat hy geldgierig en 'n ''Bok vir blare'' is, het veral aan hom gevat. Elke beweging van hom is met arendsoë dopgehou en hy het soos 'n media-teiken gevoel. Dinge het veral warm geraak toe hy sy optredegeld vir 'n vertoning verhoog het. Die swepe was weer uit. Bok verduidelik die skare wat na hom wou luister, het van 200 tot 3 500 mense gegroei.

''Ek moes beter klanktoerusting kry om 'n beter show vir mense te gee. Mense weet dit nie, maar ek het lank 'n verlies gely en moes inbetaal. Goed soos die koerantopskrifte het seergemaak; dit het my ma-hulle ook ontstel.''

Dit is sy ouers se ondersteuning wat hom staande gehou het. ''My ma se gebede is al wat my gedra het,'' vertel hy terwyl hy begin skarrel om reg te maak vir sy volgende optrede. ''As ek vat waar ek 'n jaar gelede was en waar ek nou is, voel dit soos sewe jaar wat verby is. ''Ek wens ek kan 'n boek skryf en vir mense die ware storie vertel - hoe dit voel om so vinnig 'n hit te word. Wat 'n mens alles moet deurgaan.''

'n Kunstenaar gaan nie deur sulke diep waters sonder dat dit aan jou vat nie, erken Bok. ''Ek sal nie sê dit het my as mens verander nie, maar natuurlik het dit 'n invloed op my gehad. My hele leefwyse het verander. '' Onder meer het hy sy gewone dagwerk by 'n konstruksiemaatskappy bedank en saans begin optree.

Sy eie mense se afguns is iets wat hy in dié suksesjaar leer ken het. ''Sodra 'n mens iets bereik het, trek die Afrikaner jou weer af en gun jou nie enige van jou suksesse nie. Dis hoekom baie stories so verdraai is en almal die mooi stories en dinge wat jy gedoen het, vergeet. Maar ek het beslis 'n sterker mens daar uitgestap.'' Om oral herken te word, is vreemd, sê hy. ''Mense oorval jou oral waar jy gaan. As ons êrens stop, sit ek maar liewer in die bussie, al wil ek uitklim en deur die kafee loop soos gewoonlik. Ek kan dit net nie meer doen nie. As ek daar instap, stap ek sewe handtekeninge en ses foto's later uit. Dit kompliseer dinge nogal.

''Ek sal nie sê dis nie lekker nie; dit raak wel makliker. Ek doen dit graag en was ook op 'n tyd 'n fan wat 'n handtekening gesoek het, maar soms is ons haastig en dan wil jy nie onbeskof wees nie. Maar my lewe soos ek dit geken het, kan nie meer normaal voortgaan nie. Ek kan nie meer met my plakkies en geskeurde hemp by die kafee instap en melk en 'n pakkie sigarette koop nie - dan is daar altyd die een of ander aanmerking.''

Ook met sy liefdeslewe gaan dit maar sukkel-sukkel. ''Dis moeilik om 'n verhouding te hê as jy heeltyd op die pad is en nooit by die huis is nie. Ek het hier en daar - vir 'n maand of twee - 'n meisie gesien. Maar sodra hulle meer verwag, bom dinge uit. Ek is weer alleen,'' verklap hy. ''Van 'n paar dae gelede af. Maar daaroor praat ons nie!'' As hy homself bederf, ry hy uit na sy ouers se plaas naby Boskop buite Pretoria. Hy gaan kampeer saam met vriende in die Bosveld of hy gooi 'n lyn die water in. Hy het nou vir hom 'n GS 1200 BMW Adventure gekoop. Vanjaar wil hy 'n maand afknyp en op die ysterperd Afrika invaar.

Die jaar het bedrywig begin. Hy het pas in Al Ain, ongeveer 150 km van Doebai, konserte gehou waar hy voor 2 000 mense opgetree het. ''Die res van die jaar se besprekings lyk goed. Dit gaan 'n besige jaar wees,'' sê hy. Daarby kom ook nog die musiekpromotor Louis van Wyk se Jong Turke-toer vanaf Mei. "Louis het my as kunstenaar vir die toer bespreek,'' vertel Bok. ''Hy is nie my bestuurder nie, maar net die promotor van die konsert. Ek is steeds by Mozi Records en baie gelukkig daar.'' En daar is die druk om 'n nuwe CD uit te reik. ''Mense wonder: Is ek 'n one-hit wonder?

Maar daar is nog baie wat kom!'' verseker hy ons. Die nuwe CD sal juis dalk in April uitgereik word, en hy hoop hy gaan mense verbaas. ''Almal wag dat ons De la Rey moet oortref, maar dit is nie ons doel nie. So 'n liedjie kom een keer in 'n dekade verby.'' De la Rey was darem nie net sleg nie, sê Bok. ''Dit is my passie en liefde om musiek te maak. Ek glo ek is gebore om mense te vermaak - as ek net van al die ander nonsens ontslae kan raak . . .''

deur Danél Blaauw

No comments:

Post a Comment